Wens van die Nagtegaal
Die tering knaag en groei aan my; elke uur en dag
Obsessiewe abses met ‘n kompulsiewe smag.
Grou ‘n gat en maak maar plek; vir doodsangs in die nag
Wie sal huil? Wie sal treur? Wie sal wen? En wie sal lag?
Na-ywer in die klank sal klink, en saggies sal hul sing:
Talmend ritmies, soet sal klink; as hul die loflied bring.
Liedere, sange, stemme klink; hul ereplek is lankal vol –
Dit sal wees die slot van daardie donker dooie kol…
In die geestelik’ vergadering; ‘n liggaamsdeel se doel
Vergroeisel was die pyn en nou; die einste wat ek voel.
Los maar eers die chirurgie; ‘k wil dit liewers hou –
Dalk nie eers kwaadaardig nie; ek wil dit mos onthou
Helfte van my saailinge en dubbeld van my oes
Die kanker wat my lewe eis kan my nie meer verwoes!
Sê nou maar ek kies die pyn; word dit ‘n afskeid-lied?
Hoe sal dit dan ooit kan wees? Die raad sou dit verbied…
Duet poetry soup
In gemeen was darem een
Die binne-wens na musiekant
My woorde sal ek jou verleen
Ek ‘n alt, en jy duskant…
Sing saam my die glorie-lied
Wat lof besing aan Hom wat bied
Die wonders van ons voortbestaan
Die pyn het seker al vergaan?
Albums maak ons vol en droom
Nou sal ek hier langs jou staan
Saam te sing soos idioom
Sodat die werklikheid vergaan
Jou wens
Die vraag is ‘n stuk van my moed.
So asof ons dit albei weet.
‘n Druk van een, gee sonne-gloed
Ag, kon ‘n mens dit maar net meet?
Tog besef, my eensaamheid
die soektog na die wedren-uil
van jaloesie en afgunstigheid
wat binne in jou glimlag skuil.
Jou bede heel nogsteeds die tyd
Verlore paradyse weer gevind.
Koue weer kon dit nie keer
Onthou waar ons, ons toe bevind…
Mag jy die vreugde weer herleef
My broederskap jou hart in weef
Dalk sal jy weer dit verstaan?
Die weg waarlangs ek met jou gaan?
Jy by die see
In my drome sien ek ‘n duidelike beeld
Van jou en hoe jy wandel langs die see
en die aandwind huil alweer verveeld
net voor die eerste ster sy glimlag gee
Donker kaalvoet spore sink diep in
nog dieper in die nat en koue sand
Ek verlang nou, en ek wens, besin
Ag, was jou spore maar in my hand
Die lang spore ry loop kronkelend
Soos wat jy vlug, en soos wat jy jaag
Weg van die bruisende gety
Oomblikke later – Die maanlig skuif verby
Die laaste sonlig weerkaats jou gesig
Al blink dit nogsteeds, steur dit nie jou sig
Jou een oog is oop, en steeds is hy droog
Tog wil daar trane uit alby oë kom.
‘n reguit ry spore vleg deur joune in
Iets jaag jou steeds
Of wie volg jou spore, waar het dit begin?
dalk kan dit ek wees?
Jou spoor is nog nie in myne gevlek
Die strand lê nog ver vorentoe uitgestrek…
Lewe in ‘n Spieël
Hoekom kan jy maar nie sien, wat in my kop aangaan?
‘n beeld van jou so duidelik, wat nimmer wil vergaan!
Is dit dan net ek alleen wat hierdie droom wil leef?
Was ek toe nie die afbeelding, die spieëltjie teen die muur?
Is dit wat tussen ons kom staan se losprys net te duur?
Hoekom kan jy nie laat los en weer ‘n slag kom leef?
Jy wil die beelde stukkend slaan met stiltes tussen in
My pogings om jou raak te sien se einde voor begin
Kan ek nie by jou loslaat nie, want jy sou dit uitleef!
Spieëltjie, spiëeltjie aan die wand, is liefde dan verban?
Kan sy nie maar die twyfel vaar? Ek’s seker dat sy kan!
Help my om haar trou te wen, sodat ons saam kan leef!
Want dit wat in my kop aangaan is nagenoeg die wens
van strokiesboek-verhaal sukses – Maar naastenby ‘n mens
Sal jy die spieëlbeeld van my droom…
in jou verhaal kan leef?
Wag
Sekond minuut, na uur na dag
‘n Dag na nag, na week verwag
Poseer die mag terwyl ek wag
Totdat ek sag jou woord hoor lag
Vir liefde, week na maand na jaar
wag soekend hard deur die gevaar.
Die hart soek ook maar wag reeds daar
Die kop het nog nie oor gevaar
Wat help die wagery ‘n mens?
Die wag verwag ook maar ‘n wens
Soos wag-‘n-bietjie tydloos staan
soek tyd ‘n hart om te vermaan
‘n hart klop op sy eie tyd
Die brein bereken net sy spyt
Sinkronisasie sal bepaal
of brein se pas die hart gaan haal
Of wie gaan wag en wie gaan keer
Die kop vir hart - en die hart - vir seer…